19 Oktober 2011
Om `n onderwyser te wees vra nie alleen `n warm hart vir kinders nie, maar ook `n bewustheid van die groot voorreg om met ontwikkelende kinders te werk. Wat `n groot verantwoordelikheid is dit nie! In Gereformeerde onderwys moet ons aan die voete van Jesus sit. Ons moet sy weë leer en verstaan. Sy woorde moet ons houding en ons hart vorm, want ons werk met kinders wat in sy naam gedoop is. Hulle moet Hom ontmoet deur ons onderwys.
In die vorige Ligstraal het ek kortliks aangetoon hoe ons by GLB ons taak sien by die skool, naamlik om saam met die ouers die kinders te lei tot diensbare dissipels in God se koninkryk. Hulle moet in die eerste plek lewe tot eer van God, soos Hy hulle gemaak het.
In die afgelope kwartaal het ons as personeel aandag gegee aan die eksterne moeites wat ons ondervind in die vervulling van hierdie taak. Volgens dr. Spock se eeu-oue opvoedingsadvies is rus, reinheid en reëlmaat die belangrikste boustene van `n goeie opvoeding. Die gejaagde wêreld vandag val hierdie boustene egter daagliks aan. Die Satan gebruik die media en moderne tegnologie om die wêreld op groot skaal in ons huise in te bring. In die verlede het families saam kinders opgevoed en mekaar hierin ondersteun en aangepraat. As gevolg van die kultuur van individualisme besluit elke ouer vandag self hoe hy sy kind wil opvoed en wat goed en reg is. Dit speel `n groot rol in die beluit oor watter films my kind mag kyk, die boeke wat my kind lees en die manier waarop ons met moderne tegnologie omgaan. Weens die gejaagdheid van die lewe kry ouers nie meer genoeg geleentheid om met hul kinders te praat en hulle te lei deur die valkuile van die lewe nie.
U sal verstaan dat hierdie verskille in opvoeding binne ons skoolsamelewing kan lei tot allerhande moeites en dat onderwysers soms moet bontstaan en die wysheid van Salomo nodig het wanneer sekere vrae opduik.
Ons het vir onsself `n paar riglyne opgestel:
- God eerste. In alles wat ons doen en sê moet God se wil en raad eerste staan. Ons moet `n lewe van dankbaarheid en gehoorsaamheid lei. Hierin moet ons vir die kinders `n voorbeeld stel en doen wat reg is.
- Neem jou kruis op. Deur die reg te soek beteken nie dat dit altyd die maklikste pad is nie. Dit mag selfs wees dat ons hierin reglynig teenoor sommige ouers se opvoeding staan. Ek mag as onderwyser nie wegskram van moeilike vrae wat in die klas gevra word of sake wat verkeerd is nie aanspreek nie. Daarin kan ons kinders in ons klas mislei en stel ons nie die regte voorbeeld nie.
- Genade. Omdat ek as onderwyser bewus is van my eie gebreke en sonde en die genade wat Jesus Christus vir ons verdien het so nodig het, besef ek ook dat die kindertjies in my klas dit ook so nodig het. Daarom mag ek as onderwyser nooit veroordelend optree nie, maar hulle in liefde lei na die Goeie Herder wat met oop arms vir sy lammers staan en wag.
- Gebed. In die afgelope jaar het ons die oggende as personeel met gebed geopen. Tydens hierdie gebede word dan spesifiek aandag gegee aan probleemsituasies by die skool, moeites rondom sekere sake en veral ook die kinders wat worstel met allerhande probleme, het sy akademies, sosiaal, fisies of emosioneel. Ons is geneig om baie keer oor God en om God besig te wees, sonder dat ons God self betrek!
- 5e gebod. Kinders moet geleer word dat hulle hul meerderes moet eer. Die omgekeerde is ook waar. As ouers en onderwysers moet ons altyd eerbaar lewe en die goeie voorbeeld stel.
- Warmte. Kinders moet geborge voel by die skool. Daarom is die huislike atmosfeer by die skool vir my ook so belangrik. Deur betrokke te raak in die kinders se lewe en hulle met liefde te omring skep ook die geleentheid en vrymoedigheid by kinders om met onderwysers te praat oor die dinge wat hulle kwel. Op die manier kan ons mekaar tot `n hand en `n voet wees en die lammers van Christus werklik lei na die groen weivelde en waters waar daar rus is.
- Inligting deurgee. Die GLB Forum het in die afgelope jaar geweldig baie gedoen om ouers in te lig oor verskillende onderwerpe. Ons is dankbaar vir die baie ouers wat dit so getrou bygewoon het. Ons is egter wel bekommerd dat daar steeds baie ouers is, veral jong ouers, wat nie hiervan gebruik maak nie.
Ten slotte is dit belangrik dat ons as ouers en onderwysers goed besef dat ons nie aan die kinders die geloof kan gee nie, maar dat ons wel verantwoordelik is vir ons dade en besluite as leiers. God se verbondskinders is `n kosbare geskenk en ons mag nooit ligtelik daarmee omgaan nie. Mag God se genade en liefde vir ons as sondaars, ons stimuleer om altyd verder te kyk as net die resultate wat gemeet kan word in kennis en vaardighede, sodat ons die dinge wat ewigheidswaarde het altyd eerste sal stel.
Mnr. H.H. van der Linden