Buitemuurse Aktiwiteite

Ten spyte van die GLB se klein leerdertal en personeelkorps streef ons daarna om ons leerders aan soveel moontlik geleenthede bloot te stel.
Met hierdie aktiwiteite bied ons die leerders die geleentheid  om hul Godgegewe talente te ontdek en te ontwikkel.  Deelname is daarom vir ons baie belangrik.  Saam met hierdie deelname wil ons die leerders daartoe lei om vanuit die Skrif `n waardeoordeel neer te lê oor die wyse waarop sportaktiwiteite beoefen word.

Sport

Die volgende sportaktiwiteite word aangebied:

  • Atletiek
  • Swem
  • Tennis
  • Krieket
  • Sokker
  • Netbal
  • Handbal
  • Hokkie

Tydens die Grondslagfasetyd van die leerders is bogenoemde aktiwiteite daarop gerig om hulle die vaardighede wat benodig word vir die speel van die verskeie sportsoorte aan te leer.   Vir die doel word handbal, sokker, krieket en tennis gedurende skooltyd aan al ons leerders aangebied

 

 

Wintersport

Netbal

Word aangebied vir dogters in graad 4 tot 7.  Een oefening van 1  uur per week.  Die skool beskik oor ‘n netbalbaan en doelpale.   Indien die seniors op standaard is, probeer die betrokke afrigter  wedstyde teen ander skole reël.

Sokker

Word aangebied vir seuns van graad 4 tot 7.  Die skool het sy eie mini-sokkerveld met doelpale.  Leerders moet hul eie beenskutte voorsien.  Een oefening per week.  Wedstryde word gespeel op die jaarlikse Wintersportdag teen buurskole.  Indien die seniors op standaard is word wedstryde gereël teen klubspanne.

Hokkie

Word  aangebied vir seuns en dogters van graad 4 tot 7.  Die  sokkerveld word as hokkieveld ingespan.  Leerders moet verkieslik oor hulle eie stokke beskik.  Die skool beskik egter wel oor ‘n hele aantal stokke vir beginners.  Een oefening van 1 uur per week.  Wedstryde teen ander skole word gereël waar moontlik.

 

Somersport

Krieket

Word aangebied vir seuns in graad 4 tot 7.  Een oefening van ‘n uur  per week.  Die skool beskik oor ‘n krieketblad.  Waar moontlik  probeer die betrokke onderwyser wedstryde teen ander skole reël.

Tennis

Word aangebied vir seuns en dogters van graad 4 tot 7.  Chrismar  tennisbane word daarvoor gebruik.  Tennis word in drie groepe  aangebied, naamlik beginners, juniors en seniors.  Dit behels een  oefening van ‘n uur per week.

Atletiek

Jaarliks word daar ‘n interskole atletiekdag teen ander Christen- privaatskole gehou.  As voorbereiding daarop word atletiek in   skooltyd aangebied.  Dit bestaan uit kortafstand, langafstand,  gewigstoot en verspring items.  Leerders neem in ouderdomsgroepe  aan verskillende items deel.

Swem

Die jaarlikse swemgala teen Hebron Christenskool is nou al `n  instelling en `n wonderlike geleentheid waaraan al ons leelders  deelneem.  Oefeninge vind gedurende skooltyd (L.O periodes)  plaas

 

Kultuur

Skoolkoor

Alhoewel daar nie ‘n formele skoolkoor is nie, sing die hele skool  elke Maandag na saal vir ‘n kwartier saam.  Leerders leer  tradisionele Afrikaanse- en Engelse- asook geestelike liedere aan.   As skool oefen ons elke jaar ‘n Paasfees en Kersprogram in.  Hierdie  program word dan by een of meer ouetehuise in ons omgewing aangebied.

Blokfluit

Word aangebied van graad 2 tot 7.  Daar is ongeveer 5 groepies  wat ingedeel word op grond van die leerders se vaardigheid.   Halfjaarlikse konsertjies word gehou om leerders aan te moedig.   Leerders moet oor hulle eie blokfluite beskik.

Musiekaktiwiteit

Word aangebied vir graad 1- 3 leerders wat nie blokfluit speel nie.   Basiese musiekteorie word behandel, liedjies, dansies en  musiekspeletjies word aangeleer.  Verskillende soorte musiek word  beluister.

Kitaar

Kitaar word in groepsverband aangebied in twee groepe,  beginners en gevorderdes.  Leerders moet oor hulle eie kitare  beskik.

Privaat klavieronderrig

Leerders van graad 1 - 7 kan tydens skoolure musiekonderrig in  klavier van Mev. Alta du Plessis (telefoon nommer op aanvraag) ontvang.  Leerders word uit die klasse geroep vir halfuur lesse en is self verantwoordelik om die werk wat hulle in die tyd mis, in te haal.

Leerders kry die geleentheid om aan die Tygerberg Internasionale  Eisteddfodd deel te neem aan verskeie items, asook om Unisa  eksamens te speel en te skryf.  Leerders vaar uitstekend by  bogenoemde geleenthede.  

Tygerberg Internasionale Eisteddfodd

Leerders word jaarliks deur klasonderwysers gekies om aan die  volgende afdelings deel te neem:

  • Voordrag van gediggies
  • Handskrif


 Ons probeer deelname aanmoedig, nie prestasie nie.  Tog vaar ons leerders jaarliks uitstekend by hierdie Eisteddfodd.